N G Gemeente Deneysville - 19 Junie 2011

Prediker: Ds Carlie Schiel

 

LUKAS 11: 9 – 13

Vadersdag 2011

 

As jy vandag op vadersdag een wens kon vra, wat sou jy  vra? Ek weet jou gedagtes is nou waarskynlik by jou vrou en by jou kinders ... or wat jy om hulle onthalwe sou wou vra. Maar dis nie wat ek soek nie.

 

As jy een ding van die Here kon vra vir jouself, wat sou jy vra.

 

Kom ons lees van daardie geleentheid. LEES LUKAS 11: 9 – 13

 

Daar kom 'n dag in elke pa se lewe wat jy twee dinge moet besef: Jy is tegelyk 'n kind in ons hemelse Vader se huis en jy moet jou hemelse Vader dieselfde of meer gehoorsaamheid bewys as wat jy van jou eie  kinders verwag. Jy moet 'n voorbeeld stel van kind wees.

 

En twee: Ons hemelse Vader kan beter vir ons kinders sorg as wat onsself kan. Voor die teaterdeure moet ons omdraai en in die hospitaalgang wag, maar God gaan saam in. By die skoolhekke en op vele ander plekke moet ons wegstap dat hulle hulle vlerke kan leer sprei. Maar God bly by hulle.

 

En as jy dit besef dan is jy vry om 'n ongelooflike goeie pa vir jou kinders en oupa vir jou kleinkinders te wees. Vandag dank ons die Here vir elkeen van julle. Julle het dikwels onder moeilike omstandighede julself te kort gedoen om vir ons geleenthede te skep. En om vir ons net die beste te kan gee. Dankie namens elke kind.

 

En ek weet dat mens as pa dikwels voel ek skiet te kort. Ek wens ek kon vir hulle dit of dat gedoen het. Of meer tyd saam met hulle gespandeer het. Pa, ons weet jy het jou bes gedoen. Dankie.

 

Vandag wil ek video insetsel met u deel van 'n pa wat fenominaal is. Ek kan my nie 'n beter toegeweide pa indink nie. (Ja die ma ook).

 

By geleentheid het die Here Jesus gesê “As julle wat sleg is dan weet om vir julle kinders goeie dinge te gee ...” Aanvanklik het ek gedink die Here gebruik darem wrede woorde hier: As julle wat sleg is ... Sommer netso word 'n streep deur ons as pa's getrek ... as julle wat sleg is dan weet om vir julle kinders goeie dinge te gee.

 

Okay, so ons weet darem iets. Ons weet om goeie dinge te gee.

 

As julle wat sleg is. Kom ons kyk nou  na die videogreep van die pa en wat hy vir sy kind doen. Ek weet nie of daar baie sulke pa's is soos hierdie een nie. Sy storie het diepte gekry toe sy seun hom iets gevra het. Luister daarvoor. Maar luister na sy keuses.

 

WYS DVD insetsel. Team Hoyt, Dick and Rick (Utube)

 

Wat 'n merkwaardige pa. 'n Voorbeeld vir ons almal. As jy dink die pa is merkwaardig ... uitsonderlik ... besef dan dat op Jesus se skaal registreer hy nie eers in vergeleke met God ons Vader nie.

 

Weet u, nou verstaan ek Jesus se woorde beter. God gaan doen nie maar net 'n paar maratonne (+-1000) en ystermanne (2,4 myl swem, 112 myl fietswedren en dan ‘n 42km marathon) nie. God verlaat sy hemelse troon en kom word soos een van die dinge wat Hy geskep het

.

God se liefde vir sy mense kinders is so groot dat Hy in Jesus mens word ... heeltemal mens. Sodat Hy oa ons wêreld eerstehands saam met ons kom beleef. En dan aan 'n kruis betaal Jesus, die seun van God, Hy wat een is met die Vader en die Vader een met Hom, Hy sterf vir ons sondes. Hy vat ons straf op Hom.

 

Wat 'n wonderlike liefdevolle Vader en Here!!!

 

Daar word gesê: “Want so lief het God die wêreld gehad” ... En in 1 Joh 4 “Ware liefde is die liefde wat God vir ons het “ ... Wat 'n wonderlike voorreg het ons nie om God as ons Vader te mag hê en ken.

 

Jesus beweeg heel gemaklik ... so gemaklik mens kom dit amper nie agter nie ... van ons verhouding met ons kinders waar ons dinge vir hulle gee en hulle die vrymoedigheid het om dinge by ons te kom vra ... beweeg Hy na ons verhouding met ons hemelse Vader.

 

En Hy moedig ons aan om te vra. Die agtergrond van die deel is gebed. En Jesus sê dat ons hemelse Vader selfs beter as ons weet om goeie dinge te gee vir ons te gee.

 

So, nou kry jy vandag 'n vadersdag wens: Wat vra jy? Daardie 4x4 wat jy so graag wou he? Of 'n lang oorsese reis saam met jou vrou? Of beter rentekoerse en oplossing vir ons land?

 

Of vra jy vir God self?

 

Baie pa's dink hulle huismense het goeters nodig. Die nuutste dit of dat. Mooi klere. Daar is 'n era pa's wat geglo het as hy kos huis toe gebring het en gesorg het dat daar 'n dak oor hulle koppe is en goed versorg is dan het hy sy vaderlike plig nagekom.

 

Sou jy die kinders vra ... of die vrou ... sou hulle almal vinnig sê ek wou my pa hê. Ek wou sy aandag hê. Ek wil hom langs die sportveld sien staan en my ondersteun as ek sport doen. Of in die gehoor sit en luister as ek aan 'n sangkompetisie of 'n debat deelneem.

 

Dit is wat vir ons kinders belangrik is. En nou wonder ek wat sou vir ons as God se kinders belangrik wees? Wat moet ons, die kinders van God, van God vra?

 

Ek mag vra vir God self. Ek mag vra dat God hier langs my kom sit en my raad gee. Ek mag vra dat God saam met my werk toe ry en my krag gee. Ek mag vra vir lang diep gesprekke met Hom wat die heelal tot stand gebring het. Ek mag vra dat Hy saam met my op die sportveld sal gaan of in die oggendvergadering by die werk in.

 

As Lukas onthou wat Jesus geleer het dan onthou hy dat Jesus gesê het ons moet vra vir die Heilige Gees en dat Jesus gesê het God sal Sy Gees vir ons gee. En hoe sal dit nie ons wereld verander nie.

 

Ons ken net sulke bietjies bietjies. Ons kan nie weet wat more gaan gebeur of nie gebeur nie. Maar Hy weet. Hy het al die kennis en Hy het al die wysheid.

 

Hoekom sal ek dan vir goeters vra as ek kan vra dat God self by my kom wees!

 

As jy kyk hoe Petrus en Paulus en die ander gelowiges se lewe omgedop en inspirerend geword het toe die Heilige Gees in hulle kom woning maak het ... dan kan mens mos nie anders om te vra vir die Heilige Gees nie?

 

Die grootste gemis in meeste mense se lewens is om 'n werklike verhouding met ons hemelse Vader te hê. Ek praat nie van een wat net gaan oor ons wat dit wil hê of dat wil hê nie. Ek praat van die verhouding wat soos jou kinders toe hulle klein was net by jou wou wees, jy nou netso by God wil wees.

 

By Hom. Hang aan Sy woorde. Wil nie hê HY moet weggaan nie. Die Heilige Gees maak dit 'n werklikheid in ons. En as jy dit beleef dan weet jy “grend” huise en “fancy” karre is eintlik nie belangrik nie.

 

God is belangrik. En as Hy by jou is dan raak die emotionele letsels wat ons almal dra, al dowwer. Kom ons oor ons pyne en skep ons nuwe hoop. Dan word die donker bietjie leefbaarder want ek het “ 'n Hand” om aan vas te hou, wat my lei, of net vashou.

 

En dit is God se skenk aan elkeen van ons, Sy Heilige Gees.

 

Daar is nou kans om self met die Vader te praat ... of as jy wil, sommer net in stilte by Hom te sit.

 

Amen.