N G Gemeente Deneysville - 4 September 2011

Prediker: Ds Carlie Schiel

 

MARKUS 12: 28 – 34

(Verwys ook na res van hoofstuk 11, 12, 13)  Mark 10: 17 - 22

Watter een verkies jy: Amper raak of amper mis?

Skrifgeleerdes is mense na wie ons sou opkyk. Hulle was mense wie hulle lewe gewy het aan God se woord. Dis ouens wat die pad na God moes ken. Jesus sê vir een van hulle: “Jy is nie ver van die koninkryk van God af nie” (vers 34).”

Dis amper raak. Maar dis nog steeds mis. Amper daar. Maar nog nie daar nie.

Kom ons praat oor die amper daar ... meer presies oor die “daar”. Die “daar” waarvan Jesus praat is die koninkryk van God. Dit gaan oor die koninkryk van God. Om te kom waar God absoluut alleen heers. God se woord is wet daar. En dit word tot in die fynste detail nageleef.

Ek sê nageleef want ons leef agter Christus aan. Ons leef Hom na soos Hy die wet van God in detail uitleef. Gaan lees gerus 'n bietjie weer hoe het Jesus geleef.

ñ  Hy het nie aan Homself gedink nie.

ñ  Hy het Sy mense lief gehad tot die uiterste toe (Joh 13) Tot Sy lewe as offer gegee.

ñ  Jesus het saam met mense gehuil oor 'n broer se dood. (Joh 11)

ñ  Hy het niks gedoen of gesê wat Hy nie by die Vader eers gesien en gehoor het nie (Joh 4)

ñ  Hy het meer male die skare bitter jammer gekry en hulle die heeldag uitvoerig geleer.

ñ  Jesus het selfs Sy vyande liefgehad en Sy lewe vir hulle gegee (Rom 5: 8 – 10)

ñ  Hy het gebid dat God die mense wat besig was om Hom te kruisig en te spot, vergewe.

ñ  Jesus het nie rykdom, of grend huise nagejaag nie maar absoluut vir God gelewe en God het absoluut vir Hom gesorg.

Daar is ons voorbeeld.

Ons moet onthou dat hier niks op ons afgedwing word nie. Jy word die keuse gegee. Maar as jy kies vir God en om te deel in Jesus se genade ... dan is dit 'n keuse wat jou op 'n pad sit waar jy God onvoorwaardelik absoluut gehoorsaam.

Julle ken die storie van die ryk jong man. Jesus het nie belangestel in die man se vraag as sulks nie. Jesus het belangestel in die jong man self. Hy wou sien of die man Hom sal gehoorsaam. Hy wou sien of die man Hom sal volg in selfverloening in.

In die ryk jong man se geval moes hy homself verloen deur al sy besittings te verkoop en dit vir die armes gee en Jesus kom volg. Die jong man het bedruk weggegaan. Hy het gekies om eerder amper daar te wees as om daar te wees ... volmaak te wees.

Onthou ... die jong man se vraag was in effek, hoe kan ek die ewige lewe self verdien? Toe Jesus terugkom met selfverloening toe wou die man nie meer nie.

Ja. Dit eindig altyd met: Volg my.

Jesus roep die dissipels: Volg My! Ek sal julle vissers van mense maak! En dan kyk Hy of hulle Hom gaan gehoorsaam. Toe Petrus op die water wou loop was die gebed “Here, as dit regtig U is, beveel my om op die water na U toe te kom.” (Matt 14: 28) “Kom!” sê Jesus toe. En toe kom alles neer op gehoorsaamheid. Gaan impulsiewe Petrus met sy impulsiewe gebed Jesus gehoorsaam?

Die doel van enige wet is tog gehoorsaamheid. Wette word nie gegee dat ons kan kies watter ons pas en dan net daardie paar te gehoorsaam nie. In SA kan jy dalk nog wegkom as hulle jou nie uitvang nie. In God se koninkryk is dit anders: God verwag gehoorsaamheid van die vir Wie Sy Seun Sy lewe gegee het.

Ek herhaal: God verwag gehoorsaamheid van die vir Wie Sy Seun Sy lewe gegee het.

Vers 29 en 30 maak twee dinge belangrik. Die eerste: Ons het te make met God. Die Enigste ware lewende God. Hy is die enigste Here daar kan nie vir jou 'n ander here of meester wees nie. As jy aan die 10 gebooie dink dan sal jy onthou: Hy eis onverdeelde trou aan Hom alleen!

Die woord “Here” beteken, vanuit die Grieks, “Een wie bonatuurlike autoriteit / mag uitoefen oor die mensdom. Hy wat in bevel is. Heerser. Meester. Hy is in bevel en het beheer oor ons.

Die tweede ding wat uitstaan is: Daar's 'n verhouding tussen jou en God. Hy is jou God. Julle het 'n geskiedenis saam. Jy het op 'n dag jouself aan Hom verbind. Hy is jou God.

En ja, ons weet nie hoe 'n  mens God moet liefhê nie ... daarom word dit vir ons gesê. Dit is wat God van jou verwag. Dit is hoe liefde vir God in God se oë lyk. As jy na Jesus kyk dan sien jy liefde vir God in aksie. En ja, jy sien God se liefde vir ons in aksie.

Jesus het ook gesê: Wie My liefhet, gehoorsaam my gebooie. En later weer, wie My gebooie gehoorsaam is hy wat My liefhet. (Joh 14). Gehoorsaamheid is ononderhandelbaar.

Weet u: Ons ken al die dele wat vertel hoe mens Jesus moet volg. Maar ons ignoreer dit. Onthou u nog, ek het aan die begin gesê: Die einddoel is die koninkryk van God. Om te kom waar God absoluut alleen heers. Kom ek wys u hoe ons maak. Dietrich Bonnhoeffer gebruik 'n beeld:

Jy sê vir jou kind: Dis slaaptyd. Gaan bed toe. Jou kind maak dan soos ons met God maak. Hy redeneer by homself: My pappa is besorgd oor my. Hy wil nie hê ek moet moeg wees nie daarom moet ek nou gaan slaap. Wat pappa eintlik bedoel is dat ek kan gaan speel want speel maak dat rek nie meer moeg voel nie. Dit laat my van my moegheid vergeet.

As jou kind so redeneer, hoe gaan dit vir hom of haar eindig?

Mense ons maak netso met God. Ons sê ja maar die Bybel bedoel eintlik dit. Ons doen dit met ons dankoffers. Ons doen dit met laatslaap op 'n Sondagoggend. Ons doen dit met wie ons gaan help en wie nie, en wie ons gaan groet en wie nie. En as dit by die vyande lief hê deel kom en die ander dele van die bergrede soos vergewe en ander wang draai ... dan vergeet ons totaal van God en Sy voorbeeld.

Want ons weet beter. Ons redeneer dit weg. Of ons weier summier.

En vanaand bid ons “Here, ek het U lief.” En more: “Here help my ek is in die nood.”

Maak dit vir u sin?

Kom ek illustreer wat die woordjie hele beteken. Dit beteken die volkome eenheid. Alles. Niks uitgelaat nie. Geen deel van jou lewe word uitgelaat nie. Hart, siel, verstand en krag. Jou hele innerlike en fisiese menswees.

Dit is meer belangrik as enige ander godsdienstige ding wat jy kan doen. Die skrifgeleerde het dit raak gevat en ogv dit sê Jesus is hy amper daar. Wat kort is Jesus! Volg Hom!! Dan is jy daar!

Nou kan jy vir my sê hier is 'n weerspreking. Jy kan nie sê mens word deur geloof in Jesus gered EN dan ook sê ek moet die wet onderhou nie. Wel, so 'n argument is soos die kindjie van vroeer: ons wil kyk waarmee kan ons weg kom.

Die antwoord is eenvoudig: Jesus roep jou: Volg My! Kom word soos Ek! Kom deel My lewe! Wie Sy lewe om my onthalwe verloën ..., u onthou mos nog? En dan volg jy Hom. Waarheen? In die volle onderhouding van die wet in.

Nie eers 'n komma of die punt word weg gevat nie (Matt 5: 17 - 20). In Jesus begin ons die wet nou eers leef! Nie om gered te word nie! Nie om 'n plek in die hemel te verdien nie! Maar juis omdat ons gered is! Want dis hoe geredde mense leef! Hulle leef Jesus na! Hulle word soos Jesus. (Rom 8: 29;  Efes 4: 32 – 5: 2 ens).

Ons moenie geloof en gehoorsaamheid teenoor mekaar plaas nie. Ons moet wel ons ou lewe direk teenoorgesteld plaas van die nuwe lewe.

Jy was ter dood veroordeeld. Jy word vrygespreek sonder dat jy dit verdien omdat Jesus vir jou sondes gesterf het. Jy is nou wedergebore. Nuut oorgemaak. Dink ons regtig ons kan maar aangaan waar ons ou mense opgehou het? Jy is dan 'n nuwe mens! Leef soos die nuwe mens!

Nuwe mense het God so lief dat hulle alles in hulle lewe probeer doen op maniere wat God vreugde gee. Bv om God se woord ten volle te gehoorsaam.

Kom ons kry die prentjie in ons kop. Sien Jesus daar in die tempel. (11:27; 12: 35). Hy is besig om die mense te leer. Hy leer hulle om God lief te hê met hulle hele menswees en hulle medemens lief te hê soos hulself. Die skrifgeleerdes reageer daarop met strikvrae.

Jesus leer hulle dan ook om nie met hulle belasting te kul nie maar aan die keiser te betaal wat die keiser toekom en aan God wat aan God behoort (12: 17).

Hy waarsku hulle teen die fariseers vir wie alles net om hulself en hulle eie vernaamheid gedraai het en daarom nie geskroom het om arm weduwees se huise in te palm nie.

En dan gaan sit Jesus (vers 41 ev) oorkant die offergawekis in die tempel en Hy kyk hoe die mense geld daar ingooi. En Hy leer dan Sy dissipels iets van die praktiese kant van God met jou hele lewe lief te hê. Let op die woordjie alles.

“Dit verseker Ek julle: Hierdie arm weduwee het meer ingegooi as al die ander mense wat iets in die offergawekis ingegooi het. Hulle het almal uit hulle oorvloed ingegooi, maar sy het in haar  gebrek alles ingegooi wat sy gehad het, alles waarvan sy moes lewe.”

Ek vra u: Wie het die Here die liefste gehad? Hulle wat uit hulle oorvloed ietsie ingegooi het, of sy wat haar alles ingegooi het? Wie het die Here die liefste gehad: Diegene wat net geglo het maar nie gedoen het nie, of die mense wat in Jesus geglo het en Hom gevolg het in onvoorwaardelike gehoorsaamheid aan God?

Ons moenie dele losmaak van die geheel nie. Het u al ooit gewonder horekom leer Jesus hulle al die dinge? Hoekom vertel Hy hulle van die manne wat die eienaar uit sy regmatige wins uit sy wingerd wat hulle huur probeer verkul? (12: 1 – 12) Wat die wingerd probeer oorneem?

Hoekom leer Jesus hulle al die dinge ook? Want dis deel van hoe jy jou liefde teenoor God uitleef. Dit is deel van die nuwe lewe. Kyk maar na Maleagi hoe God die volk uit mekaar haal oor hulle die swakste in hulle kuddes en die afskeep van hulle oeste vir Hom gee as dankoffer.

En in Esechiel en Jesaja oor hoe die Here die volk kap oor hulle uiterlik heel godsdienstig was maar stil stil ook afgode gedien het. Ander goed belangriker as God laat word het.

Ons moet ophou mekaar te sus met maar die Here sal sorg vir ons in Suid-Afrika al lyk dinge soms donker. Ons moet eerder fokus op God en weer begin om God lief te hê ... uit die hart uit met ons hele hart en ons hele siel en ons hele verstand en al ons krag.

Dit moet in ons gehoorsaamheid aan God gesien word en in hoe ons Jesus naleef. Mense moet daagliks iets van Jesus kan ervaar in ons woorde, in ons stemtoon en in hoe ons leef.

God kyk reg deur ons. Hy weet hoe mense is. Ons kan Hom nie bluf nie.

Kom ons gee onsself net opnuut weer oor aan Hom.

Het jy God lief? Het jy God regtig lief?